Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS – SONDAG 24 APRIL 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.
U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

In die nuus vandag:

SOCIKWA HERAANGESTEL IN OKOSA-RAAD

ARISSAT STIL OP YURI SE AAND

SARL-LIDMAATSKAP NOU 1 533

WOON DAYTON HAMVENTION VIA WEB BY

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SOCIKWA HERAANGESTEL IN OKOSA-RAAD

Die Minister van Kommunikasie het dr Marcia Socikwa in die OKOSA-raad heraangestel. Nadat dr Socikwa aan die Universiteit van die Witwatersrand gegradueer het, het sy nagraads gestudeer aan City University en die Universiteit van Stirling in die Verenigde Koninkryk. Sy het gedien as waarnemende uitvoerende direkteur: Korporatiewe Sake, visevoorsitter van die Departement van Kommunikasiewetenskappe en senior lektor en seksiehoof van die Telekommunikasieprogram aan die Universiteit van Suid-Afrika. Sy was betrokke by projekte wat deur die Internasionale Telekommunikasie-unie (ITU) en USAID onderneem is.

Sy het gedien in nasionale beleidshersieningskomitees en in die werkgroep vir die bemagtigingshandves vir die inligtings- en kommunikasietegnologiesektor. Sy het bygedra tot projekte wat daarop gemik is om regulatoriese vermoë in die streek te vergroot deur ’n streekliggaam bekend as Nettel@Africa. Sy het ook verskeie referate gelewer oor ’n verskeidenheid regulatoriese kwessies, van interkonneksie tot e-handeldrywing.

Dr Socikwa het voorgesit by die onlangse openbare aanhoor insake die konsepregulasies op die Frekwensiespektrum.

ARISSat STIL OP YURI SE AAND

Dit was ’n teleurstelling dat ARISSat nie vanaf die Internasionale Ruimtestasie uitgesaai het ter viering van Yuri Gagarin se eerste menslike ruimtevlug nie. Talle antennas is die lug gerig, maar niks was hoorbaar nie. Lou MacFadin, die hoofontwerper en bouer van ARISSat, het onlangs ’n telekonferensie met sy Russiese kollegas gehou. Dit blyk dat die Russiese ruimtepakbattery wat op ARISSat gebruik sou word, aanvanklik vir toetsing op die grond en aan boord van die Internasionale Ruimtestasie gebruik is. Toe die battery voor die loodsing op 12 April getoets is, was sy lading laag.

Volgens spesifikasies mag die pak se batterye net deur vyf laaisiklusse gaan. Daar is gevolglik besluit om nie die battery te herlaai nie, om die getal siklusse so laag moontlik te hou en die battery vir die werklike sending te behou. Die beoogde ontplooiing sal op 26 Julie plaasvind.

MacFadin sê hulle probeer nog inligting oor die stoorstatus en toestand van die battery van die Russiese span te bekom. Gaan lees meer oor ARISSat by www.amsatsa.org.za.

SARL-LIDMAATSKAP NOU 1 533

Vandeesweek verwelkom ons weer ’n aantal nuwe lede by die SARL. Ons vertrou dat julle verbintenis met ons wedersyds voordelig sal wees, hulle is:

ZS1ABV - Anthony van Tonder
ZSL1014 - Gabriel Swart
ZSL1016 - David MacGregor
ZU5GB - Graham Bowles
ZR1LSK - LS Kirstein

Die nuwe finansiële jaar lê voor en ons nooi nie-lede om nou aan te sluit en gratis lidbyvoordele in Mei en Junie te geniet. Die ledegeld vir gewone lede is R380 wat by aansoek betaalbaar is. Besonderhede van die fooie vir ander lidmaatskapklasse is beskikbaar op www.sarl.org.za. Klik op ‘members’ in die linkerkolom van die tuisblad.

WOON DAYTON-AMATEURKONVENSIE VIA WEB BY

Tom Medlin, W5KUB, sê hy gaan weer oudio en video van die Dayton Hamvention regstreeks uitsaai.

W5KUB.com se websending van die Hamvention het oor die jare steeds meer gewild geword, veral by amateurs wat Hamvention nog nooit bygewoon het of nie daar kan uitkom nie. Medlin sê daar is kykers in meer as 150 lande. Tydens die Dayton Hamvention-uitsending in 2010 het meer as 50 000 radioamateurs gekyk en die hele konvensie gevolg.

Tydens vanjaar se netsending gee Medlin ook meer as $5 000 se pryse aan gelukkige kykers weg. Pryse is onder meer geborg deur Heil Sound, Kenwood, Yaesu, MFJ, Kantronics, LDG en die ARRL. Dit is al op sigself iets wat ’n mens nie moet misloop nie.

Al ry u tydens Hamvention 2011 met Jan Tuisbly se karretjie, kan u dit nogtans van 18 tot 22 Mei bywoon danksy Tom Medlin, W5KUB, en sy span by W5KUB.com.

NOMINASIES INGEWAG VIR 2011 SE NSN-TOEKENNINGS VIR RADIOAMATEUR VAN JAAR.

Nominasies word ingewag vir Nokia Siemens Netwerke se 2011-toekennings vir die Radioamateur van die Jaar. Daar is drie toekennings:

Garth Milne-toekenning vir Tegniese Innovering

Die toekenning erken die ondersteuning, ontwikkeling en toepassing van tegnologiese innovasie in amateurradio in Suid-Afrika. Dit sal toegeken word aan iemand wat die gebruik van tegnologie in amateurradio op klubvlak, nasionaal, by skole of tersiêre opvoedkundige inrigtings bevorder het.

NSN-Radioamateur van die Jaar-toekenning

Die toekenning is vir die ondrsteuning en ontwikkeling van die amateurradiodiens in Suid-Afrika, nie vir individuele prestasies soos DXCC of ander bedryfsprestasies of wedstryde nie. Dit word toegeken aan iemand wat sy of haar kundigheid en tyd gegee het vir die bevordering van amateurradio in Suid-Afrika.

NSN-toekenning vir gemeenskapsdiens via amateurradio

Die Suid-Afrikaanse Amateurradio-ontwikkelingstrust gee elke jaar erkenning aan ’n radioamateur of groep amateurs vir diens aan die gemeenskap.

Gemeenskapsdiens behels ondersteuning aan ’n gestremde radioamateur, kommunikasie-ondersteuning tydens ’n sportbyeenkoms of ’n ramptoestand soos ’n padongeluk of ’n natuurramp soos ’n oorstroming, veldbrande of ’n aardbewing. Nominasies word ingewag vir ’n individu of ’n groep mense soos ’n radioklub of ’n vereniging.

Nominasies sluit op 25 Mei 2011 en die toekennings vind op 8 Junie 2011 plaas by die Midrand Protea-hotel. Kry volle besonderhede en ’n nominasievorm by www.amateurradio.org.za.

FORUM NIE MEER OP OPENBARE TUISBLAD

Afgevaardigdes by die SARL se algemene jaarvergadering het met ’n oorweldigende meerderheid gestem dat forumdeelname tot SARL-lede beperk word vanaf 1 Julie 2011. Die Raad van die SARL het dus besluit om die aktiewe forumgleuf van die openbare tuisblad te verwyder. Dit sal slegs op die lede alleen-tuisblad beskikbaar wees.

Tot einde Junie 2011 kan nie-lede steeds toegang tot die forum verkry deur op die forumskakel bo-aan die openbare tuisblad te klik. As u nog nie ’n lid is nie en steeds toegang tot die forums wil hê, sluit nou aan. Aansoekvorms en ledegeldbesonderhede is beskikbaar op www.sarl.org.za. Kies Members op die tuisblad-keuselys aan die linkerkant.

RTA IN KAAPSTAD

Dagboek die Radiotegnologie in Aksie-simposium van Saterdag 7 Mei by die Kaapse Skiereiland se Universiteit van Tegnologie. Soos vorige jare is dit ’n wonderlike gebeurtenis met ’n verskeidenheid aanbiedings oor tegnologie in amateurradio en bedryfsamateurradio.

Leer meer van veldprogrammeerbare hekantennas (FPGA): Hoe hulle werk, waar ’n mens hulle kan gebruik en hoe hulle in amateurtoerusting aangewend word. In hierdie aanbieding leer u hoe om FPGA in u projekte te gebruik.

Kom hoor waarom amateurradio ’n waardevolle hulpbron vir verdere onderwys is en hoe u u belewenis van amateurradio nog aangenamer kan maak.

Toegang vir die dag is R50 vir lede en R70 vir nie-lede. Dit sluit in verversings en ’n ligte middagete en deelname aan die geluksprystrekkings wat deur die dag plaasvind.

U kan by die ingang betaal of aanlyn registreer en betaal by www.sarl.org.za – kies RTA op die linkerkantste keuselys.

KOMPETISIENUUS

Eddie Leighton, ZS6BNE, kondig met genoeë die wenners van die derde RaDAR-kompetisie aan.

68 stasies is tydens die kompetisie gelog. Die sperdatum vir die indiening van logstate was 17 April. Die volgende logstate en puntetellings is oorweeg:

Tuisstasies:
ZR6NGB, 104 punte
ZS2EC, 38 punte
ZS6A, 40 punte
ZS6GRL, 32 punte met ’n kontroleerlog

Veldstasies:
ZS6XT, 468 punte
ZS6AGF, 128 punte

RaDAR-stasies:
ZS6AG, 792 punte
ZS6BNE, 360 punte
ZS2J, 252 punte
ZS1AFU, 144 punte

Baie dankie aan almal wat deelgeneem het.

Eddie reken die logstaat wat Pieter, ZS6XT, ingedien het, is een van die volledigste en netjiesste wat hy nog gesien het. Pieter het ook baie goed gevaar in die kompetisie. Daardie QRP-seine was UIT DIE BOEKE!

Die algehele wenner was Anton, ZS6AG, wat as ‘egte RaDAR’-stasie en QRP gewerk het. Geluk, Anton!

Anton is bygestaan deur Nico, ZS6MAJ, omdat sy sig nie goed is nie. Anton en Nico het ’n koppie uitgeklim en hulle toerusting boontoe gedra. Hulle logdokumente was ook goed.

Anton en Nico ontvang RaDAR-hemde geborg deur Eddie, ZS6BNE.

Die uitslae van die tweede SARL 80 m Klub Kampioenskapkompetisie volg, waarvoor slegs 4 logstate ontvang is.

1ste Wesrand ARK, ZS6WR, 20 punte van 2 logs
2de Antieke Dradeloosvereniging, ZS0AWA, 5 punte van 1 log
Dirk, ZS6AKU, het 'n kontrolelog ingestuur met 10 punte.

As gekyk word na die gesamentlike punte van die Januarie en Maart kompetisies, lyk die uitslae soos volg:

1ste Wesrand, ZS6WR, 162 punte en 11 logs
2de Antieke Dradeloosvereniging, ZS0AWA, 51 punte en 5 logs
3de PEARS, ZS2PE, 17 punte en 1 log
4de Sandton, ARK, ZS6STN, 9 punte en 1 log.

Marconidagvieringe

Die Boland Amateurradioklub gaan op Saterdag 30 April, Marconidag, 'n gelykgolfstasie met die roepsein ZS1BAK op die lug sit. Die doel van die stasie is om aan amateurs en besoekers die geleentheid te gee om hierdie wonderlike modus eerstehands te ervaar. Die stasie sal op die lug wees vanaf die Kuilsrivier Voortrekkerterrein tussen 09:00 tot 14:00 SAST. Voorlopige frekwensies is 3,520 en 7 020. Besoekers is welkom om hulle hand op verskillende tipes sleutels te kom waag. Die verrigtinge sluit om 14:00 af met 'n bring en braai. Vir meer inligting, kontak Raoul, ZS1REC, by 082 466 4327.

Die ZS3 Naelloop.

'n Foon en GG kompetisie op 40 meter, sal op Sondag 1 Mei 2011 tussen 14:00 en 15:00 UTC op die lug wees. Hierdie is 'n genotvolle aktiwiteit om kontakte tussen radio amateurs in die Noord Kaap en in Suider-Afrika lande te bevorder. 'n RS(T) verslag en die provinsiale of lands afkorting word uit geruil.

Die puntetelling vir ZS3 stasies is 1 punt per kontak met 'n ZS3 stasie en 2 punte vir 'n kontak met 'n stasie in ander ZS roep gebiede of Suider-Afrika land. Vir stasies buite ZS3 is die puntetelling 2 punte vir 'n kontak met ZS3 stasies en 1 punt vir 'n kontak met 'n stasie in eie of ander ZS roepgebied (uitsluitend ZS3) of Suider-Afrika land. Kontakte met die Noordkaap ARK, ZS3NC, die Namaqualand Aero Sportvereniging, ZS3FLY, of die Kalahari Karoo ARK, ZS3ARK, tel 5 punte en slegs een kontak per stasie is toelaatbaar.

Logstate moet binne 7 dae na die kompetisie versend word per e-pos aan zs3nc@qsl.net of per gewone pos aan ZS3 Naelloop, Posbus 1049, Kathu, 8446. Die sluitingsdatum vir logstate is 7 Mei 2011.

VOORTPLANTINGSVERSLAG

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit steeds op matige vlakke is. Daar is talle C-klas-sonfakkels rondom sonvlek 1 193 en 1 195 en die nuwe 1 196. Die massiewe sonvlekgroep 1 193 strek oor meer as 130 000 km. Sy voorste donker kern is meer as drie keer breër as ons hele planeet. Met sulke afmetings verwag ’n mens dat die aktiewe streek meer, wel, aktief sou wees; maar die mafoeta is rustig en het oor die afgelope paar dae net ’n paar C-fakkels voortgebring. Nou waarom is hierdie reus so stil? Dit het ’n ongekompliseerde magneetveld waarin die polariteite betreklik min gemeng word. Uitbarstings deur magnetiese heraansluitings vind gewoon nie plaas nie. Die situasie kan verander as die sonvlek se volgehoue groei die magneetveldlyne laat verstrengel. Vir diegene wat hulle eie frekwensies voorspel, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week sowat 60.

Namate die sonvloed toeneem, verbeter die GG-toestande ook merkbaar. GG-openinge kom nou weer daagliks voor en selfs 6 m toon tekens van lewe.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

30 April – Marconidag en ZS1BAK op die lug.
30 April – Wes-Randse Amateurradioklub se snuffelmark van 12:00 SAT.
1 Mei - ZS3 Naelloop van 14:0 tot 15:0 UTC op 40 m op die lug.
7 Mei – RTD in Kaapstad.
18-22 Mei – Volg Dayton Hamvention op W5KUB.com.
25 Mei – Sluitingsdatumvir nominasies vir NSN-toekennings, besoek www.amateurradio.org.za.
18 Junie – kursus in programmering in Windows in Gauteng. Bespreek by www.sarl.org.za.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 750 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 18:30 SAT op 3 230 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Hester van der Walt en geredigeer deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het. 73.
/EX




Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003